As per government instruction all websites operating .zaDNA top level domain name must have a landing page with a visible link to the "COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal" Please click here to access www.sacoronavirus.co.za.

Nederduitse Gereformeerde Kerk

Lichtenburg

Alg Sinode 2011: Doop

 

BESLUITE RONDOM DIE DOOP – Algemene Sinode VAN DIE NG KERK – 12 OKTOBER 2011

 

DOOP

 

1.Die Algemene Sinode bevestig ons gereformeerde oortuiging dat die Verbondsdoop uitdrukking gee aan die grondwaarheid van die Evangelie dat God se genade en trou te alle tye ons gelowige aanvaarding daarvan voorafgaan en selfs omsluit.

 

2.Die Algemene Sinode vra daarom kerkrade en predikante om die gereformeerde verstaan van die verbondsdoop met oortuiging en deernis te verduidelik en te bevestig, ook aan lidmate wat ander oortuigings oor die doop huldig.

 

3.Die Algemene Sinode gee terselfdertyd erkenning aan die feit dat Christelike kerke nie almal dieselfde Doopbeskouing huldig nie, maar dat ons nogtans saam met mekaar deel uitmaak van die Kerk van Christus.

 

4.Die Algemene Sinode gee dankbaar erkenning aan lidmate wat ten spyte van hulle ander verstaan van die doop steeds lojaal bly aan die kerkverband en wil hulle verseker dat hulle 'n geestelike tuiste in die NG Kerk het.

 

5.Die Algemene Sinode vra opreg verskoning vir lidmate wat op een of ander wyse rondom die doop seergekry het, en nooi hulle uit tot onderlinge gesprek waar daar op pastorale wyse saam oor die saak gesels en gebid kan word.

 

6.Die Algemene Sinode verseker lidmate wat die NG Kerk vanweë hulle doopverstaan verlaat het, dat die NG Kerk ‘n geestelik tuiste wil wees vir alle kinders van die Here en nooi hulle hartlik uit om hulle regmatige plek in hulle plaaslike NG gemeente in te neem en saam te werk aan die koms van God se koninkryk.

 

VERTREKPUNTE VIR GESPREK

 

1.Die Sinode is van oordeel dat die gesprek en beredenering oor die gereformeerde vertrekpunte van die doop deur die jare in die Nederduitse Gereformeerde Kerk deurdag is en ‘n rykdom van teologie ontsluit.

2.Die Sinode bevestig weer dat die verbondsteologie sentraal staan in die beredenering van doopherdenking of -herinnering.

3.Die Algemene Sinode bevestig dat in gehoorsaamheid aan die verbondsbelofte van ouers, ouers en die kerk verantwoordelikheid moet aanvaar vir die verbondsonderrig (kategese) van hul gedoopte kinders sodat hulle gelei word tot ‘n toe-eiening van die heil (belydenisaflegging) wat nie aan ‘n bepaalde ouderdom gekoppel kan word nie (soos tans in die kerkorde vasgestel word), en versoek daarom die Taakspan Kategese om die plek, aard en ouderdom vir belydenisaflegging te ondersoek.

4.Die Sinode besluit om niks by te voeg tot die gesprek oor die doop, kindernagmaal en kategese nie maar wel net te fokus op die opdrag oor doopviering.

 

TERMINOLOGIE

1.Die Sinode beveel aan dat die kerk eerder die woorde doopherdenking of doopherinnering sal gebruik.

 

RIGLYNE VIR DIE HERDENKING/HERINNERING

1.Die Sinode bevestig dat die heil altyd en in alle omstandighede gevier moet word.

 

2.Die Algemene Sinode wys lidmate daarop dat die gereelde viering van die nagmaal die primêre plek van viering is.

 

3.Die Algemene Sinode bevestig dat die doopherinnering/viering nie as ‘n her/weerdoop interpreteer mag word nie maar direk met die verbonds/christelike doop saamhang.

 

4.Die Sinode besluit dat gemeentes aangemoedig word om geleenthede te skep waar doopherinnering of herdenking deel word van lidmate en gemeentes se verhaal.

 

5.Die Sinode beveel aan dat sakramentsviering ‘n groter rol binne liturgie, kategese en die erediens sal speel.

 

6.Dit staan Kerkrade ook vry om toepaslike rituele te vestig wat die behoefte van sulke lidmate opvang om simbolies uitdrukking te gee aan hulle sterwe en opstanding saam met Christus.

 

7.Hierdie rituele is nie Sakramente nie en vervang nie die Verbondsdoop nie.

 

OPDRAGTE RONDOM DIE DOOP

 

1.Die Algemene Sinode gee aan ADGO opdrag om ‘n taakspan te benoem wat ondersoek doen na wyses waarop daar aan doopherinnering / doopherdenking gestalte gegee kan word.

 

2.AKLAS word versoek om die Sinode te bedien met ‘n dokument wat die noodsaak van die verhouding tussen die doop as eenmalige toesegging in die heil en nagmaal as herhalende viering van die heil binne die verbondsteologie belig.

Alg Sinode 2011: Bevryding

 

BESLUITE RONDOM DIE BEDIENING VAN BEVRYDING – ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK – 12 OKTOBER 2011

 

1 Die Algemene Sinode bely met blydskap die oorwinning van Jesus Christus oor al die manifestasies van die duiwel, bose magte, boosheid en kwaad in hierdie wêreld.

 

2 Die Algemene Sinode aanvaar dat hierdie oorwinning in baie gevalle nog nie ten volle sigbaar is nie, dat ons dikwels oorweldig is deur hierdie boosheid wat groter is as onsself, ook juis weens die swakheid van die mens, die verleiding van die sonde en die gebroke werklikheid.

 

3 Die Algemene Sinode aanvaar daarom dat ons as kinders van God nog steeds in ’n geestelike stryd gewikkel is teen die boosheid in al sy manifestasies in die wêreld, maar veral teen die kwaad wat in elke mens skuil.

 

4 Die Algemene Sinode bevestig weer eens dat dit van uiterste belang is dat die kerk sal leef vanuit die geloofsperspektief dat, hoewel die Bose gelowiges steeds bedreig soos ’n brullende leeu en versoek soos ’n engel van die lig, die bose deur die lewe, sterwe en opstanding van Jesus en die uitstorting van God se Gees oorwin en aan bande gelê is.

 

5 Daarom meen die Algemene Sinode dat enige sogenaamde bediening van bevryding wat die geloofswaarheid oor die lewe en werk van Jesus en die Gees van God misken, geen bediening van die evangelie is nie en ook geen vryheid bring nie.

 

6 Die Algemene Sinode moedig daarom alle gelowiges aan om deur die krag van die Heilige Gees (in die gees van die oorwinning van Jesus) die boosheid die stryd aan te sê deur spesifiek te fokus op die genadige verlossingswerk van Christus, sodat die kerk die ware kenmerke van Evangeliese gehoorsaamheid (liefde, genade, vergifnis en versoening) sal vertoon.

 

7 Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

 

8 Die Algemene Sinode oordeel dat die getuienis van leraars en lidmate van die NG Kerk dat hulle in hulle bediening wel mense teëgekom het van wie hulle oortuig was dat hulle deur bose magte of demone gedemoniseer was – en ook hulle getuienis dat ’n bediening van bevryding baie van hierdie mense van kwellings, vreesagtigheid, haat teenoor God en sy gebod bevry het – nie sonder meer afgewys moet word nie. Die Sinode aanvaar dat daar verskillende interpretasies is oor die werklikheid al dan nie van gedemoniseerdheid. Dit geld ook vir die interpretasie oor wie en wat agter bepaalde bevrydinge lê.

 

9 In die lig daarvan is dit die oordeel van die Algemene Sinode dat ’n bediening van bevryding as ’n buitengewone bedieningshandeling onder bepaalde voorwaardes toegelaat sou kon word eerder as om dit geheel en al te verbied. Die voorwaardes waaronder so ’n bediening toegelaat sou kon word, hou in dat:

9.1 die bediening van bevryding as ’n buitengewone bediening beoefen sal word en nie as deel van ’n roetine-pastoraat nie;

9.2 dit onder toesig van en met rapport aan die kerkraad en die ring gedoen word;

9.3 die persoon ook vir mediese evaluering verwys moet word. Daar rus ’n swaar verantwoordelikheid op persone wat so ’n bediening beoefen om mense nie skade te berokken deur siekte (onder meer psigiatriese versteurings) as besetenheid of gedemoniseerdheid te behandel nie;

9.4 daar met sorg gewaak word teen ’n animistiese verstaan van die skepping en teen die neiging om te dink daar skuil magiese kragte in sekere voorwerpe; teen lang konfronterende gesprekke met bose magte, asook teen die gepaardgaande triomfalisme wat straal uit sensasionele byeenkomste van bevryding;

9.5 daar verreken moet word dat die Gees van Christus in mense wat aan Christus behoort en sy Naam bely, leef. Bedieningspraktyke wat die algenoegsaamheid van die werk van Christus minag en daarmee die gereformeerde belydenis van die volkome verlossingswerk van die genadige God in Jesus op die spel plaas, word afgewys.

 

10 Die Algemene Sinode besef dat die verskillende kulture in ons land ons duidelik bewus gemaak het van die veel-fasettige aard van die siening oor die Bose; dat daar kontekste is waarin daar ’n werklike vrees vir eksterne bose magte is wat baie mense se lewens oorheers en dat hierdie lewenservaring ernstig opgeneem behoort te word. Die Algemene Sinode moedig daarom sy eie ampsdraers en lidmate aan, wat in sulke kontekste werk, om op verantwoorde wyse besondere aandag hieraan te gee met die doel om die radikale verlossingswerk van Christus met oorgawe te verkondig.

 

Soek

wide-formidable
wide-formidable
wide-formidable
wide-formidable