As per government instruction all websites operating .zaDNA top level domain name must have a landing page with a visible link to the "COVID-19 Corona Virus South African Resource Portal" Please click here to access www.sacoronavirus.co.za.

Nederduitse Gereformeerde Kerk

Lichtenburg

Alg Sinode 2011: Huwelik en Saamwoon

 

Huwelik en saamwoon – Algemene Sinode NG Kerk – 12 Oktober 2011

 

HUWELIK EN SAAMWOON

1.Die Algemene Sinode neem kennis van die verslag en spreek sy waardering uit vir die kommissie se eerlike poging om verantwoordelik met hierdie kontekstuele saak om te gaan.

2.Die Algemene Sinode besef dat die huwelik soos ons dit vandag ken die produk van eeue se ontwikkeling is. Daarom kan sommige huweliksgebruike soos in die Bybel beskryf, byvoorbeeld leviraatshuwelike en die vrou as besitting, nie sonder meer dien as riglyne vir hoe Christelike huwelike vandag behoort te wees nie.

3.Die Algemene Sinode erken dat saamwoonverhoudings (wat die seksuele insluit) vandag ʼn werklikheid in die samelewing is. Daar is verskillende redes waarom mense saamwoon. Sommige mense woon saam omdat hulle seksuele eksklusiwiteit nie as ’n belangrike aspek van ’n verhouding beskou nie. Hierdie verhoudings is weens die nie-permanente en selfsugtige aard daarvan, eties onaanvaarbaar.

4.Die Algemene Sinode is bewus daarvan egter dat daar ander redes is waarom ander pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle die huwelik hoog ag en daarom seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, ook wat die seksuele betref, voordat hulle trou. Hierdie verhoudings reflekteer in baie opsigte die Bybelse waardes van liefde, respek en eksklusiwiteit en kan dus nie sonder meer afgewys word nie.

5.Die Algemene Sinode is nogtans daarvan oortuig dat die historiese ontwikkeling van die huwelik in die Bybel en in die geskiedenis vir ons duidelike riglyne bied van wat ’n Christelike huwelik is: ’n vaste, formele ooreenkoms tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag om hulle lewens in alle opsigte met mekaar te deel in ’n lewenslange verbintenis waarin seksualiteit ‘n eksklusiewe karakter dra, geseën of bevestig deur die kerk, gesluit in die teenwoordigheid van getuies, sover as moontlik in die gemeenskap van gelowiges en verkieslik erken deur die staat as ’n wettige huwelik.

6.Die Algemene Sinode oordeel dat, in die lig van bostaande, gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele ooreenkoms nie aan Christelike riglyne voldoen nie.

7.Die Algemene Sinode beskou die reëlings van mediese fondse en pensioenskemas wat voordele van mense ontneem wanneer hulle na die dood van ‘n eggenoot/eggenote weer in die huwelik tree, as eties problematies en onderneem om nogeens met die betrokke owerhede hieroor in gesprek te tree.

8.Die Algemene Sinode wil mense wat in ʼn etiese saamwoonverhouding leef en dus die Christelike norme vir die huwelik uitleef, aanmoedig om die verbintenis nog vaster te maak deur die kerklike en staatkundige aspekte ook in plek te kry.

9.Bostaande besluite word nie afsonderlik nie, maar deurgaans as ‘n eenheid beskou oor die kerk se standpunt ten opsigte van die saamwoon van ongetroudes.

10.Die Algemene Sinode aanvaar dat al die implikasie rondom die bevestiging van ’n enkel kerlike huweliksverbintenis nog nie uitgeklaar is nie en daarom op hierdie stadium nie ten gunste van so ’n reëling nie.

 

Pastorale versorging

1.Die Sinode versoek leraars om in pastorale hantering van pare-in-verhouding, hulle met deernis te begelei van onvolledige verbintenisse na die omvattende, Bybelse verbintenis van die Christelike huwelik, en hierdie ideaal nooit af te water nie.

 

 

Opdragte

1.Ons verwys vir ondersoek na ‘n kommissie die vraagstuk van die veranderende seksuele raamwerk en seksuele waardes van ons gemeenskappe.

2.Die Sinode word versoek om ‘n huwelikskursus te ontwikkel wat aan die jeug en ander vrywillig bedien word in die jaar na belydenis aflegging. Die oorsprong van huweliksprobleme word dan aangespreek en word die simptome (soos saamwoon) voorkom. Tans is die leiding vir die huwelik nie voldoende nie en word voorbeelde van ouers en die media slaafs nagevolg.

3.Die Algemene Sinode gee opdrag aan die Moderamen om weë te soek waarin daar met die staat en ander rolspelers in gesprek getree word om wyses te vind waar daar nie teen persone gediskrimineer word op grond van die voortgaande voordele verbonde aan mediese fondse en pensioenskemas nie.

 

Die Huwelik se rol en plek

1.Die Algemene sinode bevestig die plek en waarde van die Christelike huwelik in die kerk en die gemeenskap en motiveer leraars en lidmate om die duursaamheid daarvan te bevorder.

2.Die Algemene sinode versoek leraars en lidmate om gesonde huwelike aktief te bevorder en moeite te doen met huweliksvoorbereiding en huweliksverryking, omdat die idee en praktyk van huwelike verskraal het.

3.Die Algemene Sinode motiveer gemeentes om jaarliks op die tweede Sondag van Februarie wêreldhuweliksdag te vier.

 

 

Alg Sinode 2011: Kerkhereniging

Die Algemene Sinode besluit soos volg tov kerkhereniging: 

 

1 INLEIDING - GOEDGEKEUR

* Ons is diep oortuig dat die Gees van God sy kerk lei om die eenheid van die kerk van Jesus Christus na te jaag. Daarom is ons hartseer en jammer omdat ons na baie jare se gesprekke oor kerkhereniging nog nie een nuwe kerkverband gevorm het nie. Terwyl daar faktore is wat die proses baie moeilik maak, is ons oortuig dat ons die verantwoordelikheid het om die proses hoopvol voort te sit.

* Ons bevestig die belangrikheid van sigbare kerkeenheid en wil onsself wy aan die vorming van een kerkverband as uitdrukking van die eenheid. Ons glo dat die versoening wat Jesus Christus bring ons help om ou breuke te heel en as volle familie van kerke byeen te kom. Ons glo ook dat ’n verdeelde kerk dit moeiliker maak om ons roeping uit te voer en dat ons ook nie ons verantwoordelikheid teenoor die Suider-Afrikaanse samelewing op so ‘n manier nakom nie.

* Ons pleit by die ander kerke van die NG Kerkfamilie vir ’n inklusiewe herenigingsproses waarin ons poog om sover moontlik almal wat deel is van ons familie saam te neem op die pad vorentoe.

* Ons is verbind aan die VGKSA wat vir ons sê dat die Belharbelydenis vir hulle baie belangrik is en dat hulle dit deel wil maak van die nuwe verband. Ons is verbind aan die NGKA en die RCA wat vir ons sê dat hulle nie kans sien om Belhar volledig as belydenisskrif te onderskryf nie.

* Ons erken dat daar in die NG Kerk baie gemeentes, predikante en lidmate is wat gereed is vir ’n hegte eenheid en graag Belhar onderskryf. Ons erken ook dat daar baie gemeentes, predikante en lidmate is wat gereed is vir ‘n hegte eenheid maar om verskillende redes nie kans sien om Belhar as belydenisskrif te onderskryf nie.

* Ons glo dat ons ‘n verantwoordelikheid teenoor al hierdie groepe het. Ons is oortuig dit is moontlik om een te word in ‘n “ruim huis” wat plek maak vir almal – insluitende ons verskille.

* Ons is baie jammer oor die moontlikheid dat ’n belydenisskrif wat die eenheid van die kerk bely, die kerke uit mekaar kan hou.

* Ons pleit by die familie van NG Kerke sowel as ons lidmate vir sigbare hereniging in ‘n ruim en breë eenheid waarin ons die verskille wat oor die loop van tyd ontstaan het aanvaar, maar steeds oortuig is dat ’n hegte en sigbare eenheid deur Gees moontlik is. Die verskeidenheid wat volg uit verskillende gawes, ons geskiedenis en ook taal en kultuurverskille verruim en verryk ons sodat ons mekaar en die wêreld beter kan dien.

* Ons sien die kerk en ook kerkhereniging as ‘n organiese groeiproses wat beteken dat ons baie geduld en liefde met mekaar nodig het, maar altyd daaraan vashou dat die Gees kragtig is om meer te doen as wat ons dink of droom.

* Ons bied die volgende voorstel aan die ander lede van die Familie aan as ons aanbeveling oor hoe ons mekaar kan ontmoet en ’n saam kan groei.

* Ons hoop dat ons uitdrukking aan sigbare eenheid kan gee en een nuwe herenigde kerkverband kan vorm. Ons is oortuig dat dit tot eer van die Hoof van die kerk en tot die voordeel van al die kerke en lidmate van die Familie van NG Kerke sal wees.

 

2 VERBINTENIS TOT KERKHERENIGING - Goedgekeur

Die NG Kerk herbevestig sy ernstige en duidelike verbintenis tot die herstel van een kerkverband met die ander drie kerke van die Familie, nl die VGKSA, die NGKA en die RCA. Hierdie verbintenis is gegrond in die oortuiging dat die Here dit van ons vra - ter wille van sy eer (Joh 17:23) en ter wille van ons gesamentlike roeping (Ef 4:4) en getuienis in Afrika – sodat die wêreld kan glo.

 

3 'N KEUSE OM GOU WEER OP GANG TE KOM MET DIE PROSES EN SAAM TE GROEI NA GROTER EENHEID - Goedgekeur

3.1 Die NG Kerk is jammer dat die herenigingsproses so stadig vorder. Ons vertroue in die Here van die kerk gee ons egter hoop dat die proses kan voortgaan:

(1) Ons het 'n gedeelde geskiedenis en is diep onder die indruk van die feit dat al die kerke in die familie oortuig is dat ons bymekaar hoort;

(2) Al die kerke aanvaar reeds die Drie Formuliere van Eenheid as 'n gemeenskaplike belydenisbasis.

(3) Die Algemene Sinode het reeds in 1998 gesê dat hy die wesenlike inhoud van die Belharbelydenis aanvaar.

(4) Daar bestaan in baie gemeentes, ringe en sinode reeds baie goeie samewerkingsverbande en strukture en op sommige plekke is daar reeds eenheidstrukture opgerig.

(5) Lidmate in die familie van NG Kerke gee uitdrukking aan die feit dat geloof die enigste voorwaarde vir lidmaatskap is deur oor en weer deel van kerke in die familie te word.

(6) Die moratorium van die VGKSA skep probleme vir die proses. Ons vertrou dat hulle dit op grond van die gees van die Belydenis van Belhar by hulle eersvolgende Algemene Sinode sal ophef.

3.2 Ons is diep oortuig dat die vordering wat wel gemaak is, ons gedeelde geloof en tradisie en veral die onbeperkte moontlikhede wat die Gees skep, die moontlikheid bied om met nuwe energie en toewyding te werk aan sigbare eenheid. Ons is oortuig dat ons baie moeite moet doen om die hindernisse uit die weg te ruim en sodat sigbare eenheid as kosbare gawe nagejaag kan word.

3.3 Ons glo dat ons so 'n pad nie alleen aanpak nie. Die getuienis van ander wat die pad reeds geloop het, help ons om ons vertroue te stel op die versoenende krag van die evangelie van Christus en die werking van die Gees wat ons steeds nader aan mekaar bring en ons laat groei in ons liefde en begrip vir mekaar.

 

4 'N PAD WAT BAIE GEDULD, BEGRIP EN TEGEMOETKOMENDHEID VAN ALMAL VRA - Goedgekeur

Die geskiedenis en ervaring van ander gereformeerde kerke leer ons dat verenigingsprosesse tussen kerke nooit eenvoudig is nie. Dit vra van alle betrokkenes gehoorsaamheid, geestelike toewyding, geduld, liefde en veral tegemoetkomendheid. Dit beteken onder meer dat ons moet onderskei om mekaar te vind en bereid moet wees om ter wille van ‘n geloofsaak op te offer. Liefde beteken ons sal rekening hou met vrae en onsekerheid wat mense het en dit onderskeidend met groot geduld en sensitiwiteit hanteer.

 

5 DIE BELYDENIS VAN BELHAR (EN LAUDIUMDEKLARASIE) – Goedgekeur

5.1 Ons is na ons konsultasieprosesse deeglik bewus daarvan dat

(a) ’n groot deel van die gemeentes en lidmate van die NG Kerk weens ’n verskeidenheid van faktore nie die Belydenis van Belhar as vierde belydenisskrif wil aanvaar nie. Dit is baie belangrik dat ons oor al hierdie faktore sal praat sodat ons nie “by die verlede stilstaan nie” (Jes 43:18), maar saam kan fokus op ons roeping vandag en in die toekoms. Ons verbind onsself hiertoe (vgl AS Besluit 2004).

(b) hierdie verskille kan oorbrug word deur ‘n deeglike studie te maak van Belhar self.

5.2 Soos ooreengekom met die Taakspan van die WBGK (nou die WGGK) is ons verbind om dmv ’n gesamentlike taakspan met die VGKSA weer deeglik te besin oor hoe ons saam in beide kerke met mekaar oor hierdie Belydenis kan praat.

5.3 Ons is steeds oortuig dat die wesenlike inhoud van die Belydenis van Belhar (ons verbintenis aan die Bybelse getuienis oor God Drie-enig, oor die eenheid van die kerk, oor geregtigheid en versoening) baie wyd aanvaar word (vgl AS besluit 1998).

5.4 Omdat die Belharbelydenis 'n belydenisskrif van een van die Familiekerke is, stel ons voor dat dit as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerkverband opgeneem word. Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te aanvaar nie.

5.5 Die volgende formulering van die belydenisgrondslag (met inagneming van pt 5.4) vir ’n herenigde kerk word aanvaar as basis vir onderhandeling met die familie van NG Kerke:

1. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, geskied in gemeenskap met die belydenis van ons voorgeslagte soos dit verwoord is in

1.1 die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Athanasius waardeur die Kerk haar verbondenheid met die algemene christelike Kerk uitdruk, en

1.2 die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls waardeur die Kerk haar verbondenheid met die gereformeerde tradisie uitdruk.

2. In verbondenheid met ons eie konteks erken ons die Belydenis van Belhar.

3. Die Kerk erken die betekenis van die Laudiumdeklarasie vir ons missionêre karakter.

4. Die Kerk aanvaar dat die taak van die kerk in belydenisvorming nie afgehandel is nie. In die toekoms mag veranderde omstandighede en ’n beter verstaan van die Woord van God lei tot die aanvaarding van verdere belydenisskrifte of die wysiging van bestaande belydenisskrifte.

 

6 MODEL: 'N VERENIGDE KERKVERBAND VAN SELFSTANDIGE PLAASLIKE GEMEENTES

6.1 Ons besluit dat die presbiteriaal-sinodale kerkregeringstelsel as model vir die organisering van die nuwe een kerkverband gebruik word. Dit beteken dat al die gemeentes as selfstandige gemeentes ingevoeg word in ringe, sinodes en een algemene sinode.

6.2 In die proses moet ruimte gelaat word vir onderhandeling, nuwe moontlikhede en 'n groei na mekaar en samevoeging van gemeentes.

 

7 GEMEENTES SE REG OM HUL OOR HUL EIE WERK TE BESLUIT, WORD ERKEN

Al die bestaande gemeentes van die verenigde verband sal so behoue bly en almal saam die gemeentes van die nuwe verband wees. Gemeentes is onderling oop vir bywoning en lidmaatskap. Waar meer as een gemeente in dieselfde gebied val, staan dit gemeentes vry om hulle onderlinge sake en samestelling spontaan en sonder voorskrif of dwang te reël volgens plaaslike behoeftes. Kerkrade funksioneer binne die

gereformeerde aard in terme van hulle besluitnemingsbevoegdheid oor gemeentes.

 

8 ANDER KWESSIES WORD GEDURENDE DIE PROSES ONDERHANDEL

Daar is 'n aantal sake waaroor saam onderhandel moet word as die voorbereidende proses aan die gang kom. Dit sluit in die skryf van 'n nuwe kerkorde, die naam van die kerk, teologiese opleiding, organisasie van kerklike werksaamhede, finansies en eiendomme, taal, ens. Ons is bewus daarvan dat van hierdie sake baie sensitief en emosioneel van aard is en dat die onderhandelings hieroor met baie wysheid, oorleg en sensitiwiteit hanteer sal moet word. Tog is ons van oordeel dat meningsverskille oor hierdie meer praktiese sake nie in die pad van spoedige kerkhereniging behoort te staan nie.

 

9 WESENLIKE ROL VAN GESAMENTLIKE GESPREK EN BESINNING OP ALLE VLAKKE ASOOK FASILITERINGSHULP VAN BUITE

9.1 Ons glo dat die proses van kerkhereniging indringende gesprekke en begeleiding op alle vlakke gaan vra - veral ook op grondvlak met gemeentes en lidmate. Ons verbind onsself tot hierdie gesprekke en oordeel dat dit 'n groot wins gaan wees as van hierdie gesprekke ook saam gevoer kan word. Ons is oortuig dat dit die proses sal aanhelp as die gesprekke oor eenheid gevoer word in die lig van ons gesamentlike roeping in ons lande en ons gesamentlike geloof in die evangelie.

9.2 Ons is intens bewus van die huidige onvermoë van die gespreksvennote om self die gesprekke weer op

dreef en die onderhandelinge aan die gang te kry. Ons is dankbaar vir die hulp van die WGGK en in besonder die fasiliteerder dr Jerry Pillay. Ons bevestig ons volledige verbintenis en samewerking tot die fasiliteringsproses.

 

10 KERKSKEURING MOET TEN ALLE KOSTE PROBEER VERMY WORD

Ons spreek die oortuiging uit dat ons in die herstel van een kerkverband kerkskeuring moet vermy. Dit het te dikwels gebeur - ook in ons gereformeerde tradisie - dat kerkverenigingsprosesse aanleiding gegee het tot kerkskeuring, die vorming van nuwe kerke en nuwe twiste. Ons sal die proses so wil hanteer dat alle predikante, gemeentes en lidmate van die kerke saam hierdie pad aanpak.

 

11 VERSOENING

11.1 Ons erken dat onversoende kerke en kerkleiers deel van die stadige vordering is.

11.2 Die hofsake tussen die NGKA en die VGKSA is ’n bron van groot kommer. Ons sal graag ’n konstruktiewe rol wil speel om die spanninge op te los.

11.3 In die fasiliteringsgesprekke is daar ook gesprekke aan die gang oor herstellende geregtigheid. Ons is ook verbind om deel van die gesprekke te wees en ‘n oplossing te vind.

11.4 Ons is oortuig dat ’n kerklike waarheids-en versoeningsproses in die familie van NG Kerke ons gaan help om die kerkherenigingsprosesse te laat vorder. Ons wil graag met die Familie hieroor gesprek voer.

 

12 DIE BYEENBRING VAN ALLE GEREFORMEERDE KERKE

Ons spreek die hoop uit dat die hereniging van die familie 'n tree sal wees op pad na die byeenbring van alle kerke van gereformeerde belydenis in SA.

 

13 RAADPLEGING VAN GEMEENTES

13.1 Gemeentes is na die 2007 Algemene Sinode geraadpleeg oor die Achterbergh-voorstelle. Ons wil dit duidelik stel dat dit nie ‘n stemming of kwantitatiewe meningspeiling was nie. Ons het die water in ’n raadplegende proses getoets.

13.2 Die Algemene Sinode is verbind om ons gemeentes te raadpleeg en mettertyd te toets. Die kerkverband moet hierdie pad saam kan loop. Dit vra vir 'n proses waarin ons vorentoe beweeg maar mekaar ook in liefde en respek hanteer.

 

14 PROSES VERDER

14.1 Die besluite van die Algemene Sinode 2011 oor die herstel van een kerkverband in die NG Kerkfamilie het die status van beleidsbesluite vir gebruik in die verdere verloop van die gesprek met hierdie familie.

14.2 Hierdie besluite word deurgegee na die sinodes, kerkrade en gemeentes vir kommentaar en verdere aanbevelings. Die verdere gesprekke met kerkrade en gemeentes is die verantwoordelikheid van elke sinode / sinodale kommissie / sinodale diensraad /moderamen en word in oorleg met die Moderamen van die Algemene Sinode (plus ander kundiges) as die lede van die taakspan vir kerkhereniging. Die gesprekke gaan oor die volgende:

14.2.1 Die besluite oor kerkhereniging van die Algemene Sinode 2011;

14.2.2 Die praktiese implikasies van elemente van die proses soos gevisualiseer in hierdie besluite plus die bepalings van Die Kerkorde (onder andere Artikel 36, 37 en 44) en die Algemene Sinode se besluit oor ’n moontlike konsensus of 'n tweederdemeerderheid van kerkrade (in 1998 en 2002).

14.3 Daar word onderskeidend te werk gegaan na afhandeling van hierdie gesprekke. Die NG Kerkfamilie is, sover moontlik, deel van die onderskeidingsproses.

14.4 Die besluite van die Algemene Sinode 2011 word in beide bilaterale gesprekke asook gesamentlike gesprekke met die kerke van die NG Kerkfamilie bespreek.

14.5 Die toetsing van kerkrade en sinodes oor "finale" of eindvoorstelle vir die herstel van hierdie verband word gelaat totdat 'n behoorlike proses van gesprekke met sinodes en gemeentes na die oordeel van die Algemene Sinode of die Moderamen van die Algemene Sinode plaasgevind het.

14.6 Werklike kerkeenheid staan of val by die wyse waarop dit op rings- en gemeentevlak sigbaar word. Daarom moet ringe/ gemeentes gemotiveer en konkreet gehelp word om na gelang van hulle plaaslike omstandighede met die ander ringe/ gemeentes van die NG Kerkfamilie in hulle omgewing, asook binne ander samewerkingstrukture, daadwerklik saam te werk asook eenheidstrukture te vestig. Aangesien hierdie ’n saak is wat binne die hele kerkverband belangrik is, is dit 'n dringende prioriteit wat die Moderamen in samewerking met en deur sinodes en ringe moet hanteer.

 

15 APPROBASIE BY KERKEENHEID

15.1 Kyk die aanbeveling van die ATR (Verslag van die ATR pt 2.5.2) tov pt 6 van Reglement 6.

15.2 Twee derdes van alle kerkrade moet hierdie geapprobeerde besluit verkry. Goedgekeur

15.3 Elke sinode moet dan met ’n tweederdemeerderheid tot kerkeenheid besluit. Goedgekeur

15.4 Nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het, moet die Algemene Sinode dit ook met ’n tweederdemeerderheid aanvaar (Art 43 en 44). Goedgekeur

 

16 SINODEVORMING Goedgekeur

Aangesien strukturele eenheid op Algemene Sinodale vlak noodwendig ’n langsame proses is, kan sinodes

wat daarvoor gereed is, wel struktureel met mekaar verenig as sinodes sonder om die bestaande kerkverbande prys te gee. Die bedoeling hiermee is ook om die herenigingsproses op Algemene Sinodale vlak te bevorder.

 

2.5.2. AANBEVELING MET BETREKKING TOT INSTEMMING EN APPROBASIE BY BELYDENIS-

/VERBANDWYSIGING Goedgekeur met ’n tweederde meerderheid

2.5.2.1 Die Algemene Sinode besluit soos volg oor die wyses waarop die instemming van en approbasie

deur die gemeente verkry kan word by die voorgestelde wysiging van die belydenisgrondslag van die NG

Kerk en/of die voorgestelde wysiging van die kerkverband by moontlike eenwording van die Familie van

NG Kerke.

2.5.2.1.1. Voeg die volgende voetnota by Kerkorde Art 44.1 “Vir die wyse waarop die besluit van Kerkrade

oor die verandering van die belydenisgrondslag van die NG Kerk hanteer word ten einde die instemming

en approbasie van gemeentes met die besluit te verkry, sien Kerkorde Regl 6: 6”

2.5.2.1.2. Verander die opskrif van KO Reglement 6 om te lees: “Reglement vir die Vermeerdering,

Kombinasie, Eenwording en Samesmelting van gemeentes, en vir die Vorming van ʼn nuwe Kerkverband.”

2.5.2.1.3. Voeg ʼn nuwe 6 by Kerkorde Regl 6, met die opskrif “Die Vorming van ʼn Nuwe Kerkverband”.

2.5.2.1.4. Die nuwe Regl 6: 6 lees soos volg:

“6.1 Die kerkraad lê sy voorstel oor die wysiging/handhawing van die belydenis/kerkverband éérs aan die

gemeente voor vir die instemming van die belydende lidmate. Nadat die instemming van twee derdes van die

lidmate verkry is, finaliseer die Kerkraad sy besluit met ʼn tweederdemeerderheid, waarna die finale besluit wéér op

twee agtereenvolgende Sondae aan die gemeente vir approbasie voorgelê word.

6.2 Die Kerkraad besluit om die instemming van die gemeente soos in 6.1 hierbo genoem, op een van die

volgende twee wyses te verkry:

6.2.1 Die instemming van belydende lidmate word per geslote stembrief verkry tydens ‘n gemeentevergadering wat

die kerkraad met die belydende lidmate van die gemeente belê het en waarvan daar by die erediens(te) op vier

agtereenvolgende Sondae vooraf kennis gegee is van beide die vergaderdatum en die inhoud van die voorstel. By

hierdie vergadering is twee waarnemers deur die ring/sy gevolmagtigde kommissie aangewys, teenwoordig. Die

voorsitter en skriba van die kerkraad tree op as ampsdraers van hierdie vergadering.

6.2.1.1 Lidmate wat ʼn wettige verskoning het waarom hulle nie die betrokke gemeentevergadering kan bywoon nie,

kan hul stem vooraf per geslote stembrief uitbring. Hierdie stemme word getel nadat die stemming op die

gemeentevergadering uitgebring is.

6.2.2 Die instemming van belydende lidmate word per geslote stembrief verkry wat persoonlik en sonder enige

stemwerwing deur die kerkraad aan elke ongesensureerde belydende lidmaat van die gemeente beskikbaar gestel

word. Minstens 14 (veertien) dae moet na ontvangs toegelaat word vir die inhandiging van die stembrief.

6.2.2.1 Dit is die lidmaat se verantwoordelikheid om toe te sien dat die voltooide stembrief die kerkkantoor van die

gemeente voor of op die sperdatum bereik. Die stemtelling vind plaas in die teenwoordigheid van twee

waarnemers deur die ring/sy gevolmagtigde kommissie aangewys.

6.3 Die tweederdemeerderheid van die gemeente se instemming word bepaal deur die getal uitgebragte stemme.

6.4 Die kerkraad kan met lidmate en die kerkverband kan met gemeentes wat in die minderheid gestem het en wat

nie bereid is om deel te word van die nuwe kerkverband nie, onderhandel oor billike kompensering.

6.5 Die kerkraad stel deurgaans alle pogings in werking om kerkskeuring te voorkom.”

Soek

wide-formidable
wide-formidable
wide-formidable
wide-formidable